fbpx

SA kies lekkerte bo gesonde kos

Article Source: Beeld 2012-10-25 22:48 

Janice Keogh

Suid-Afrikaners eet wat lekker smaak. As dit gesond is, is dit ’n bonus.

Dít het aan die lig gekom in ’n gesondheidstudie wat deur Nestlé Suid-Afrika onder 3 001 Suid-Afrikaners van verskillende agtergronde gedoen is.

Byna die helfte van hulle het gesê dis te duur om gesond te eet en byna 80% het gesê hulle eet wat vir hulle lekker smaak en let nie daarna op of dit gesond is nie.

Die studie, wat deur TSN Suid-Afrika saamgestel is, dui ook daarop dat 55% meer mense omgee of hul kos vullend is eerder as dat dit gesond is.

Neil Higgs, direkteur van TSN, het gesê Suid-Afrikaners leef baie gesonder as byvoorbeeld die meeste Amerikaners, maar 44% van volwassenes het aangedui hulle eet gereeld kitskos.

Dit is ook die geval onder 63% van Suid-Afrikaanse kinders van 12 tot 15 jaar, het ’n steekproef gewys.

Luidens ’n opname op Beeld se Facebook-blad reken 84% van lesers gesonde kos is duurder.

Olga Rossouw, dieetkundige van Johannesburg, het gesê die veronderstelling dat dit duur is om gesond te eet, dui op onkunde en gerieflikheid.

“Dit is gerieflik om op pad huis toe iets op te laai wat reeds klaar is, maar uiteindelik kom gesond eet neer op beplanning.”

Mense wat veral baie tyd op die pad deurbring, moet vir hulle iets inpak sodat hulle nie saans doodhonger tuis kom en hulle dan aan gemorskos vergryp nie, meen sy. Ina Nortjé, al 30 jaar lank ’n dieetkundige, het gesê Suid-Afrikaners weet nie hoe om gesond te eet nie. Die meeste eet 80% van die tyd ongesond. Van haar kliënte is nog nie eens tien nie, maar ly al aan vetsug en het cholesterolprobleme. Volgens haar is die sleutel tot gesond eet die drie P’s: plan, prepare en pack.

’n Besige leefstyl is nie ’n verskoning om ongesond te eet nie. Jy moet net jou maaltye beplan. Sy raai mense aan om geregte wat lang bereiding verg vooraf te maak en te vries.

By navraag het McDonald’s gesê hulle bied ’n verskeidenheid kos om in hul klante se behoeftes te voorsien.

Scooters het gesê hulle gebruik maer vleis en laevetkaas in hul kos. KFC het nie op navrae gereageer nie.

Related Articles