Deur Danielle Daniëls , 09 November 2017 06:01 , Netwerk 24
Om gewig te verloor is nie ’n maklike taak nie, veral in die winter wanneer jy smag na trooskos. Danielle Daniëls het met Jeanelle Smuts gesels oor hoe sy danksy leefstylverandering daarin kon slaag om gewig af te skud.
Jeanelle Smuts (28) van Bothasig is van sesjarige ouderdom af ’n tipe 1-diabeet. Sy werk tans as programkoördineerder in die bemarkingsafdeling van ’n hospitaalgroep en moet haarself daagliks met insulien inspuit om haar suikervlakke te beheer.
Haar leefstyl voorheen
Jeanelle sê as sy nou moet terugdink oorhaar vorige leefstyl is dit ’n herinnering aan hoe jy nié moet leef nie. “Ek dink omdat ek al vanaf ses jaar oud gesê was ek mag nie dit of daai eet nie, was dit altyd my mikpunt om daardie kos te kry. Die dag toe my ouers toelaat dat ek my eie kos kon maak, het ek skelmpies die ‘verkeerde’ kos soos sjokolade, brood en stroop ingeryg.”
Sy sê sy was op skool oorgewig, die vetste een in die groep en het altyd haar diabetes probeer wegsteek. “Dit het my gepla en ek het van die een dieet na die ander gespring. Ek en my ma het verskeie pogings aangewend om gewig te verloor, maar het elke keer misluk. “Toe ek 16 word, het ek vir die eerste keer aan diabulimie gely. Ek het myself nie met insulien ingespuit nie, maar geëet soos ek wou – sekere dae ’n halwe pot grondboontjiebotter met roomys of stroop.’
“Ek het letterlik 500 mg per dag verloor, het wonderlik oor al die komplimente gevoel, maar ook baie sleg. Ek het basies my hare in die proses verloor. My oë het swart kringe om gehad en diep in my kop gesit. As my ma my nie vasgevat het oor hierdie eetsteurnis nie, sou daar baie groter skade gewees het. Ek dra tans ’n bril as gevolg van die skade.”
Nadat sy gematrikuleer het, het sy aan ’n Engelse kollege gaan studeer. Sy het by ’n gimnasium aangesluit, maar nog nie haar ongesonde eetgewoontes en leefstyl verander nie.“In my derde jaar het ek besluit dat ek maerder wou wees en het 15 kg verloor. Nie lank daarna nie, verbreek my eerste regte kêrel ons verhouding, ek tel alles en nog meer op, en word as oorgevoelig vetsugtig geklassifiseer!’
“So ry ek vir nog sewe jaar die dieetwipplank. In Maart vanjaar sterf my geliefde oupa aan ’n hartaanval en ek begin weer eet. Sommer op sy begrafnis ooreet ek my aan broodjiesen pasteie. En toe word dit net erger. “Ek het maklik ’n hele blok goudakaas op een dag opgeëet. En maklik ses tot sewe snye brood in die aand wanneer niemand kyk nie. Kos het al meer van ’n obsessie geraak. “My suikervlakke was hemelhoog en al het ek meer insulien ingespuit, het dit nie meer gehelp nie. Ek was insulienweerstandig.”
Leefstylverandering
Dinge het al hoe erger geword. Jeanelle het besef dat haar gesondheid besig is om agteruit te gaan en dat sy ’n verandering moes maak. “Ek was depressief en het foto’s van myself gehaat. Ek was moeg daarvan om my eie foto’s te dokter sodat ek goed kon voel oor myself. Ek het ook ’n groot begeerte om eendag kinders te hê en ek weet dat my huidige ‘nes’ nie ’n goeie een sal wees om ’n baba in te groei nie.”
“My grootste rede bly die volgende: Ek is volgende jaar 29. Ek was nog nooit in ’n bikini nie en ek wil minstens een jaar van my 20’s in ’n bikini kan rondloop!” Sy is tans op die Slender Wonder-gewigverliesprogram by Endermologie Mediwellness Centre (EWC), wat uit vyf fases bestaan. Sy is tans in die gewigverliesfase. “Die vyf fases sluit in stimulasie, ’n detoksfase, die gewigsverliesfase, ’n stabiliseringsfase en ’n instandhoudingsfase. My eetplan bestaan uit ’n proteïendrankie vir ontbyt en gereelde kleiner porsies deur die dag van laesuiker-vrugte, groente, maer vleis, vis en hoender asook een klein porsie stysel.
“Ek besoek EWC elke tweede week om geweeg te word. ’n Skaal word gebruik om ’n assessering van my liggaam te doen. Dit sê vir jou hoeveel spiermassa jy gebou het, hoeveel water jou liggaam inhou en hoeveel vetpersentasie jy al verloor het. Dit help baie om te verstaan wat met jou lyf in daardie twee opsigte gebeur.” Sy oefen drie tot vier keer ’n week saam met ’n persoonlike afrigter by ’n privaat gimnasium in Bothasig.
Jeanelle het vanjaar op 1 Mei by die SlenderWonder-program aangesluit toe sy 103,2 kg geweeg het. “Ek weeg nou 77 kg. Ek het 26,2 kg verloor. Ek het ’n broekgrootte 20/44gedra en dra nou ’n broekgrootte 14/38. Ek het ook 69 cm verloor, en het nog so 7 kg om te gaan, maar sal dit voor die nuwe jaar bereik!” Dit is die eerste gewigsverliesprogram waarna sy uitsien om na haar weegsessies toe te gaan!
Uitdagings en voordele
“Bo en behalwe die feit dat ek elke tweede week ’n kleiner broek moet gaan koop, is my uitdagings maar meestal te doen met jou uithouvermoë. Dit kos kophou wanneer jy saammet ander mense verkeer en hulle lekkernye eet wat jy ook wil hê.” Buiten die uitdagings geniet sy haar nuwe leefstyl. “Ek kan nou my fiksheid meer druk en kan nou maklik ’n Zumba-klas doen of Constantianek gaan uitstap.
“My gewig het my letterlik teruggehou. My emosies is ook meer in bedwang, ek het baie meer selfvertroue en ’n beter selfbeeld.”
Oorspronklike artikel hier:
https://www.netwerk24.com/Ontspan/Gesondheid/nuwe-leefstyl-help-jeanelle-gewig-verloor-20171102?giftcode=1f5e0fb0d0d34f4eabe8df4c030b608f
Deur Danielle Daniëls , 09 November 2017 06:01 , Netwerk 24