Article Source: Beeld 2010-07-19 22:51
Hoe meer ouer vroue weeg, hoe swakker is hul geheue, veral vroue wat die ekstra gewig aan die heupe dra.
Navorsers het dít bevind in ’n studie wat vandeesweek in die Journal of the American Geriatric Society gepubliseer is.
Die navorsers het na inligting oor 8 745 vroue gekyk wat aan die VSA se Woman’s Health Initiative-hormoonbehandelingstoetse deelgeneem het.
Volgens prof. Diana Kerwin, ’n internis van die Northwestern Medicine-groep, het hulle vetsug vir die eerste keer met swakker breinfunksie en geheue verbind.
Hulle het ook bevind vroue wat vet aan die heupe dra (peervormige lywe) vaar slegter as vroue met sogenaamde appelvormige lywe, wat gewig om die middellyf dra.
Met elke punt wat ’n vrou se liggaamsmassa-indeks (LMI) gestyg het, het haar telling in ’n geheuetoets met een punt gedaal.
LMI is jou liggaamsmassa (kg) gedeel deur jou lengte kwadraat (m²). ’n Gesonde LMI is vir die meeste mense tussen 20 en 25.
Vetsug word gewoonlik bo 30 gediagnoseer. Die navorsers vermoed die rede vir die verskil tussen die soort lywe het dalk te doen met die soort vet wat in die twee dele van die liggaam aanpak.